Vrou eis R1,33 milj. van eksverloofde
2012-11-09 10:29
Johannesburg – 'n Pretoriase vrou het haar eksverloofde hof toe gesleep om haar bydrae tot hul uitgawes terug te eis, is Vrydag berig.
Wanda Möller (28) het haar voormalige verloofde, Anthony Potgieter (25), vir R1,33 miljoen in die hooggeregshof in Pretoria gedagvaar, maar hulle het ’n skikking bereik.
Die skikking, wat ’n hofbevel gemaak is, bepaal dat Möller haar eis teen Potgieter terugtrek; dat sy die wooneenheid in Celtisdal, Centurion, behou; en dat sy Potgieter se aandeel daarin vir R60 000 koop.
Potgieter mag sy meubels en ander besittings by Möller gaan haal, het die hof beveel. Elke party betaal sy/haar eie regskoste.
Möller het in hofstukke gesê hulle het op 25 September 2010 ooreengekom om op 4 Februarie vanjaar te trou.
Potgieter het die verlowing op 18 Junie 2011 verbreek deur mondelings te weier om met die huwelik voort te gaan.
Möller beweer Potgieter was betrokke by 'n ander vrou, maar hy het dit erken.
Volgens Möller het sy angs en emosionele trauma ervaar en antidepressante gebruik. Haar sosiale status het skade gely.
Volgens Möller het sy R30 000 aan inkomste verloor omdat sy tyd bestee het aan die troureëlings en haar loopbaanvordering is met R100 000 “teruggesit”. Sy het R500 000 geëis vir skade aan haar waardigheid en aansien.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA