Vrou eis R13 miljoen ná vliegongeluk
2011-12-15 09:34
Kimberley – Die weduwee van ’n welgestelde plaaslike sakeman wat byna drie jaar gelede in ’n vliegtuigongeluk op die Kimberley-lughawe gesterf het, eis meer as R13 miljoen van die vlieënier se weduwee.
Lonel Breda dagvaar in haar persoonlike hoedanigheid Cornelia de Jager van Kuruman, eksekuteur van Johan de Jager se boedel, vir R13 204 830 se skadevergoeding plus rente.
Mnr. De Jager was die vlieënier van ’n Beechcraft B36TC-ligte vliegtuig wat op 3 Maart 2009 met opstyging by die Kimberley-lughawe neergestort het.
Die eiser se man, mnr. Sarel Breda, ’n bekende ANC-lid en gewese direkteur van die GWK-Griekwa-rugbyspan, wat die passasier was, is in die ongeluk dood.
Mnr. De Jager het op 18 Maart 2009 aan brandwonde in die MediClinic Bloemfontein beswyk.
Mev. Breda sê in die besonderhede van vordering (van die eis) die ongeluk het weens De Jager se nalatigheid gebeur. Mev. De Jager ontken enige nalatigheid in haar pleitstukke.
Mev. Breda sê haar huidige en toekomstige verlies aan onderhoud is R8 779 791.
Hul minderjarige kinders, Bryan en Jason, se verlies aan onderhoud tot met hul mondigwording is onderskeidelik R2 043 440 en R2318 590.
Mnr. Breda se inkomste ten tyde van sy dood was R1,8 miljoen per jaar.
Mev. Breda sê mev. De Jager weier om die skadevergoeding te betaal.
Mev. De Jager erken in haar pleitstukke die ongeluk het plaasgevind, maar ontken dat mev. Breda en haar kinders enige skade gely het.
Sy ontken verder dat haar oorlede man se boedel die geld aan die Breda’s skuld.
Die geding word in September volgende jaar in die hooggeregshof bereg.
Luidens die ongelukverslag wat die Burgerlugvaartowerheid (BLO) uitgereik het, is die ongeluk moontlik veroorsaak deurdat die vlieënier nie voldoende lugspoed gehandhaaf het nadat die enjin gestaak of krag verloor het nie.
Die enjin het onklaar geraak 11 sekondes nadat die brandstofpomp aangeskakel is.
Die vergasser het moontlik versuip en die enjin het onklaar geraak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad