Vrou doodgeskiet toe sy brood koop
2010-01-22 10:54
Johannesburg – ‘n Vrou in haar 30's is Donderdagaand doodgeskiet tydens ‘n rooftog by ‘n kafee in Boksburg, het paramedici gesê.
Volgens Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, het die vrou en haar man by die kafee op die hoek van Rondebult- en Smithstraat stilgehou om brood te koop.
“Gewapende mans was glo besig om die winkel te beroof toe die paartjie opdaag. Hulle het verskeie skote afgevuur en die vrou is noodlottig gewond,” het Botha gesê.
Sy het gesterf voordat paramedici op die toneel opgedaag het. Die vrou se man is nie in die voorval beseer nie, maar is glo erg getraumatiseerd.
- Sapa