Vrou dood toe sy uit motor geslinger word
2011-11-05 15:58
Johannesburg – 'n Vrou is dood en drie ander mense beseer toe twee motors in Jameson Park in Nigel aan die Oos-Rand teen mekaar gebots het, het Gautengse paramedici Saterdag gesê.
Volgens Jeffrey Wicks, woordvoerder vir Netcare 911, het die ongeluk laat Vrydagaand op die R42 plaasgevind.
"Die beskikbare inligting dui daarop dat een van die bestuurders uit die aangewese baan gedraai het in die aankomende verkeer in. Die twee voertuie het teen mekaar gebots en albei het die pad verlaat," het Wicks gesê.
Hy sê paramedici het toe hulle op die toneel aankom, gesien 'n vrou is uit een van die voertuie geslinger.
Sy is kritiek beseer en het aan haar beserings beswyk.
Die ander beseerdes, twee vroue en 'n man, is naby die voertuie se wrakke aangetref.
Die man was in 'n kritieke toestand.
Die drie beseerdes is op die toneel behandel en daarna na 'n hospitaal geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA