Vrou dagvaar hospitaal ná geboorte
2011-07-19 17:28
Johannesburg – ‘n Vrou van Pretoria dagvaar die staat nadat sy na bewering sonder die bystand van verpleegsters by die Sebokeng-hospitaal in die Vaaldriehoek geboorte moes skenk, het die regsfirma CP van Zyl Attorneys Dinsdag gesê.
Bridget Moleboheng sê sy moes vir ses ure in haar eie bloed lê en is bystand geweier deur Verpleegsters in Desember verlede jaar.
“Die verpleegsters het die hele tyd geskree dat ek moet stilbly. In hierdie stadium was die baba besig om gebore te word en ek is steeds geïgnoreer,” het sy in ‘n verklaring, wat deur die regsfirma uitgereik is, gesê.
“Terwyl ek in soveel pyn was en bang was om op my eie te probeer, het die verpleegsters die eenheid verlaat en buite in die gang gaan sit, waar hulle voortgeklets en gelag het.”
Moleboheng sê nadat sy geboorte geskenk het, is sy nie toegelaat om haar babaseuntjie vas te hou of te borsvoed nie.
Simon Zwane, woordvoerder van die Gautengse gesondheidsdepartement, het gesê dit is die eerste wat hy van dié saak hoor.
“Elke burger het ‘n reg tot regsaksie indien hulle voel dat hulle nie behoorlik behandel is nie.
“Ons sal wag op die briewe van die prokureurs en nadat alles in ag geneem is, besluit of ons die kwessie wil verdedig.”
Sunelle van Heerden, konsultant van die regsfirma, het gesê Moleboheng dagvaar die staat vir “ernstige skade wat gely is”.
Van Heerden het in die verklaring gesê dié soort voorval is ‘n alledaagse gebeurtenis by sekere staatshospitale en die enigste manier om dit te verander, is deur tot regsaksie oor te gaan.
“Dit is duidelik dat die regering nie die wil het om die afskuwelike toestande in staatshospitale te verander nie en dit word aan die publiek oorgelaat om regsadvies in te win.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA