Vrou byt verkragter se tong, pinkie af
2011-08-16 20:56
Johannesburg – Die polisie in Mpumalanga is op soek na ‘n man wie se vinger en tong afgebyt is deur ‘n vrou wat hy naby Carolina verkrag het.
Die vrou het Vrydag na Carolina geryloop toe die man haar omstreeks 18:00 ‘n geleentheid aangebied het, het ao. David Mbenekazi Dinsdag gesê.
“Die man het die motor naby die Mooiplaas-plaas tot stilstand gebring en die vrou herhaaldelik met ‘n sagte koeldrankbottel teen haar bolyf geslaan. Hy het haar toe die bosse in getrek en haar verkrag. Terwyl hy haar verkrag het, het hy haar probeer soen, maar sy het die helfte van sy tong afgebyt. Hy het weggespring van die pyn.”
Volgens Mbenekazi het die aanvaller die vrou weer probeer gryp. Sy het toe die pinkie van sy linkerhand afgebyt en weggehardloop, met die tong en die pinkie wat op die toneel agtergebly het. Verbygangers het die vrou na die Hendrina-polisiekantoor geneem.
“Dit wil voorkom of die man sy pinkie en tong saam met hom geneem het, aangesien die polisie dit nie op die toneel kon vind nie. Ons doen ‘n beroep op die publiek om ons te help om hom vas te trek,” het Mbenekazi gesê.
Die vrou is in ‘n plaaslike hospitaal opgeneem vir behandeling.
‘n Saak van verkragting word ondersoek.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA