Vrou, broer skuldig ná moord op Deense man
2013-02-26 14:15
Johannesburg – Die swaer van ’n Deense sakeman wat in 2008 hier vermoor is, is Maandag aan sy moord skuldig bevind, berig Beeld.
Francis Kimeze (37) is in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op Preben Povlsen (71).
Povlsen se vrou, Maria Povlsen (34), en haar suster, Stella Senegendo (42), is as medepligtiges tot die misdaad skuldig bevind.
Die egpaar Povlsen het beurtelings in Farum, Denemarke, en in Gordonsbaai gewoon.
Stella het saam met haar seun in ’n aparte woning op die egpaar se perseel in Gordonsbaai gewoon.
Kimeze het van tyd tot tyd instandhouding by die huis gedoen.
Regter Rosheni Allie het al drie beskuldigdes skuldig bevind op aanklagte van die diefstal van die oorledene se voertuig.
Povlsen se lyk is in Januarie 2008 in Bloubergstrand gevind, ses dae nadat hy vermis geraak het.
Hy is minstens 48 keer met ’n mes gesteek – waaronder agt steke in die nek. Die res was oor sy lyf versprei.
Vonnisverrigtinge sal Woensdag begin.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA