Vrou brand haarself, sterf
2009-09-03 21:34
Thabisile Khoza
Lebowakgomo – ‘n Vrou in Limpopo wat haarself in paraffien gedoop het en toe aan die brand gesteek het, het Donderdag in die hospitaal gesterf.
Janette Chauke, van ‘n dorpie naby Lebowakgomo, het glo ook paraffien oor haar kinders uitgegooi na ‘n argument met haar man. Hy kan daarin slaag om die vlamme te blus voordat dit die kinders bereik het.
Volgens insp. Manong Tshehla, polisiewoordvoerder in Lebowakgomo, het die voorval Saterdagaand omstreeks 19:00 plaasgevind.
“Nadat die man die vlamme geblus het, het hy na die bure gehardloop om hulp te ontbied. Sy vrou is deur nooddienswerkers na die Lebowakgomo hospitaal geneem," het Tshehla gesê.
Chauke is na die Mankweng hospitaal oorgeplaas waar sy later aan haar beserings beswyk het.
Die saak word deur die polisie ondersoek.