Vrou besteel skool van R1 miljoen
2011-06-29 07:13
Bloemfontein – Die finansiële bestuurder van ’n Vrystaatse skool is in die Bloemfonteinse streekhof skuldig bevind daarvan dat sy meer as R1 miljoen in die afgelope bykans vier jaar van die skool gesteel het.
Sewona van der Westhuizen (35), ’n geskeide vrou van Brandfort, het in die Bloemfonteinse streekhof voor streeklanddros Jan Greyvenstein skuld op 128 aanklagte van diefstal beken waarby altesaam R1 121 180 betrokke was.
Sy het van 28 April 2007 tot 17 Maart 2011 dié geld in bedrae wat wissel van R1 000 tot R55 000 in haar eie bankrekening inbetaal. Sommige maande het sy tot drie of vier keer van die skool se geld in haar rekening inbetaal. Talle bedrae is net onder, of net bo R10 000.
Sy was verantwoordelik daarvoor om die skool se verskaffers en skuldeisers te betaal.
Deur die rekenaarprogram van die skool se bank het sy die name van die ondernemings aan wie die skool geld moes betaal op die stelsel geplaas en dan die nommer van haar eie bankrekening daarby ingesleutel.
Só het die geld wat met internetoorplasings betaal is, in haar rekening beland. Dit het dan voorgekom asof die geld aan verskaffers of skuldeisers betaal is.
Sy sê in haar pleitverduideliking sy het die geld vir haarself gevat en dit gebruik.
Sy sê sy het deurgaans geweet en besef dat haar optrede verkeerd en regtens strafbaar was.
Vic de Bruyn van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid het aangekla. Cobus Bredenkamp het vir Van der Westhuizen opgetree. Speurder-ao. Giepie Goodchild het die saak ondersoek. Die verhoor is tot 11 Julie uitgestel wanneer die vonnisverrigtinge sal begin. Sy is steeds op R5 000 borgtog uit.
Volksblad verneem Van der Westhuizen werk al die afgelope ses jaar met die Hoërskool Staatspresident Swart se geldsake.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad