Vrou beroof, verkrag, gewond
2010-09-03 14:17
Johannesburg – ‘n 42-jarige vrou is Vrydagoggend verkrag, beroof en gewond nadat ‘n man by haar huis in die Ga-Mashita informele nedersetting ingebreek het, het die polisie in Limpopo gesê.
“Die vrou het geslaap toe die verdagte omstreeks 04:00 ‘n venster gebreek en toegang tot die huis verkry het,” het ao. Mothemane Malefo, polisiewoordvoerder, gesê.
“Die inbreker het die slagoffer met ‘n vuurwapen aangehou en gedreig om haar te skiet sou sy skree,” het hy gesê.
“Hy het haar daarna verkrag en die huis geplunder alvorens het met die slagoffer se selfoon en geld op die vlug geslaan het.”
Volgens Malefo het die verdagte die vrou ook in haar skouer geskiet.
Die vrou se drie kinders het die skoot gehoor en ondersoek ingestel. Hul het dadelik die nooddienste ontbied.
“Die slagoffer is na die Polokwane-hospitaal geneem waar sy in ‘n ernstige maar stabiele toestand is,” het Malefo gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA