Vrou (93) lê ure in hospitaalgang
2010-11-09 06:38
Volksblad
Bloemfontein - Geen einde is klaarblyklik in sig vir die drama en skokkende voorvalle in staatshospitale in Bloemfontein nie.
’n Bejaarde Kitty Nel (93) van Petrusburg het Maandag ure lank op ’n matras in ’n gang van die Nasionale Hospitaal gelê omdat daar geen dokter was wat haar kon help nie, sê ’n familielid.
Sy het vroeër vanjaar twee beroertes gehad en is in ’n erg verswakte toestand.
Haar swaer, Johan van der Merwe, sê hy het Nel reeds om 10:00 na die hospitaal gebring.
Met Volksblad se besoek om 16:00 het Nel steeds op ’n klein matrassie in die gang gelê. Sy was ooglopend in ’n swak toestand en kon glad nie praat of op vrae reageer nie.
Op ’n matrassie langs haar het nog ’n pasiënt in ’n plas bloed gelê. Sy kon ook nie praat nie en het geen familielede by haar gehad nie.
Sarel Germishuizen, ook ’n pasiënt hier, sê hy het reeds om 10:00 by die hospitaal aangekom.
“Ek het ’n ernstige heup- en rugbesering en kan nie loop nie.”
Hy sê ’n dokter by die hospitaal het hom uit sy rolstoel gegooi en die rolstoel vir ’n ander pasiënt gegee.
“Ek moes toe maar teen die gang se muur lê.”
Germishuizen sê Maandag teen 16:00 het die Vrystaatse gesondheidsdepartement se forensiese eenheid reeds twee lyke kom haal van mense wat in die ongevalle-afdeling dood is.
’n Inwoner van Bloemfontein wat sy vrou Maandag na dié hospitaal gebring het en verkies om anoniem te bly, het Volksblad gebel om die toestand by die hospitaal saam te kom besigtig.
“Ek is kwaad. Waar is ons department?” het hy gevra.
Hy sê daar is geld om op partytjies te verkwis.
“Maar hier lê ’n bejaarde vrou. Sy is duidelik ontwater en het hulp nodig.”
Volgens hom was daar Maandag slegs een dokter vir sowat 500 pasiënte.
Jabu Mbalula, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê die tekort aan dokters by die Nasionale Hospitaal is nie so ernstig nie. By ander hospitale in die provinsie is die tekort groter.
“By die Nasionale Hospitaal is dit sleg, maar nie so erg nie. Sover my kennis strek, is daar nog geen amptelike verslae oor die tekort hier ingedien nie.”
Die nuus van die swak behandeling kom ná voorverlede week se verkragting van ’n vroulike dokter by die Pelonomi-hospitaal, wat oor die land heen opslae gemaak het.
- Volksblad