Vrou (71) se lyk in plas bloed in huis gekry
2012-02-13 07:00
Johannesburg – Die voormalige eienares van ’n gastehuis in Wakkerstroom se lyk is die naweek in ’n plas bloed gekry nadat sy vermoor is.
Ingrid Anna Niebuhr (71), wat die Haus Bergfrieden-gastehuis tot onlangs bedryf het, is vermoedelik verlede week in haar huis oorval, verskeie kere met ’n mes gesteek en toe keelaf gesny.
Lt.kol. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, sê sy is Donderdag omstreeks 14:00 die laaste keer lewend gesien.
Haar tuinwerker het Saterdag net ná 08:00 vir werk opgedaag en gesien die motorhuis- en die kombuisdeur is oopgebreek.
Chris Smit, voormalige burgemeester van Wakkerstroom, sê die tuinwerker is dadelik na die bure om hulp te kry.
Die buurman het gaan ondersoek instel en in die hoofslaapkamer op Niebuhr se lyk afgekom.
Daar was volgens Beeld se inligting onder meer steekmerke aan haar nek, gesig en rug.
Daar was egter geen teken van ’n moordwapen nie en niemand is tot dusver in verband met die moord in hegtenis geneem nie.
Niebuhr se maroen Volkswagen Polo is later in die omgewing van Volksrust gekry, het Hlathi gesê.
Dit lyk voorlopig asof niks behalwe die motor gesteel is nie.
Beeld verneem die polisie het Saterdag ’n span forensiese deskundiges uit Pretoria ontbied om die moordtoneel te fynkam.
Enigeen met inligting kan konst. Jan Maritz bel by 083 320 8117.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld