Vrou (70) getuig oor trauma ná man se moord
2011-03-23 08:53
Upington - “Jou man, jou oupa is van jou weggeneem. Niks sal hom terugbring nie, en jy moet daarmee saamleef, maar dis moeilik.”
Só het Henna van Zyl (70) Dinsdag hier in die hooggeregshof getuig oor die moord op haar man, Carel (74), van Florapark op Upington.
Hy was ’n afgetrede sakeman.
Marcelo Angus, ’n oud-Kapenaar wat ten tyde van die moord nege maande op Upington gewoon het, het Dinsdag skuld op die aanklag van moord op Van Zyl beken.
Hy het ook skuld beken op aanklagte van poging tot moord weens die aanranding van mev. Van Zyl, asook huisbraak en roof met verswarende omstandighede.
Van Zyl is op 12 Mei verlede jaar, ’n dag voor sy verjaardag, helder oordag in die egpaar se huis oorval en aangerand. Hy is ook drie keer met ’n skerp voorwerp gesteek.
Mev. Van Zyl is daarna aangerand. Hulle is eers die volgende dag in die huis gekry toe gaste opgedaag het om mnr. Van Zyl met sy verjaardag geluk te wens.
Mev. Van Zyl het Dinsdag getuig drie ringe, waaronder haar trouring en verloofring, is van haar vingers afgesteel.
Verskeie ander artikels is ook uit die huis gesteel.
Sy het getuig dit is moeilik om die emosionele impak van die voorval te beskryf.
“Jy verloor jou lewensmaat. Jy stap by die huis in en daar is niemand nie, net jy alleen. Alles lyk nog dieselfde, maar dit is nie dieselfde nie, want die een wat dit met jou gedeel het, is nie meer daar nie.”
Die egpaar was 51 jaar getroud, en het 30 jaar in hul huis gewoon.
Haar 20-jarige kleinseun, wat sy oupa se name dra, was ná die voorval so getraumatiseerd dat hy berading moes kry. Die res van die familie was ook getraumatiseerd.
Sy slaap sleg sedert die voorval, en haar eetgewoontes is ook sleg. Sy het 22 kg verloor.
Sy kry ook nou epileptiese aanvalle, wat nie voorheen gebeur het nie. Sy het gesigbeserings en ’n fraktuur in die wang opgedoen, haar oog was toegeswel en haar gesig opgehewe.
Sy het haar bewussyn verloor, en dit eers die volgende middag omstreeks 15:00 herwin toe sy iemand buite hoor roep het. Dit was hul besoekers.
Sy het getuig die voorval was omstreeks 09:00.
Luidens Adams se pleitverduideliking het hy by die huis verbygery toe hy sien die voordeur is oop. Hy wou goedere steel om te verkoop vir geld om terug Kraaifontein toe te gaan.
Terwyl hy in die huis was, het mnr. Van Zyl op hom afgekom. Van Zyl het hom gegryp, en hulle het gestoei. Hulle het in die badkamer inbeweeg, waar albei gegly en geval het. Van Zyl het sy kop teen die muur gestamp.
Die verhoor voor regter Hennie Lacock duur vandag voort. Adams is in aanhouding.
- Volksblad