'Vrot appels' in regering se name gepubliseer
2013-02-24 13:58
Pretoria – Regeringsamptenare wat skuldig bevind is op aanklag van korrupsie se name sal genoem word, het Jeff Radebe, minister van justisie, Sondag gesê.
"Oor die volgende paar dae sal ons al die name publiseer van mense wat skuldig bevind is aan korrupsie en al diegene wie se bates of gevries of aan die staat verbeur is," het die minister aan joernaliste in Pretoria gesê.
Dít word gedoen "sodat die publiek weet wie die vrot appels in die Suid-Afrikaanse samelewing is".
Radebe het gesê beamptes "werk aan die besonderhede" om of elektroniese media, koerante, radio of TV te gebruik om die inligting bekend te maak.
Op die vraag of regsprobleme dalk kan opduik in dié proses, het Radebe gesê die name is reeds openbare kennis.
"Dit is openbare kennis. Die hofrekord dui dit aan, so daar is geen probleem om die mense se name te noem nie.
"Ons wil hê die publiek moet bewus wees van wat gebeur het, want vir 'n geruime tyd praat mense oor korrupsie en dit is net 'n getal [werknemers]. Ons wil dit nou op 'n betekenisvolle manier doen."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA