Vrieskas-moord: Valke trek 2 vas
2013-01-14 12:46
Johannesburg – Twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord verlede week op ‘n bejaarde egpaar van Belfast, Mpumalanga, het RSG berig.
Die Valke se woordvoerder, Paul Ramaloko, sê die eerste verdagte is die naweek in Mamelodi-Oos in Pretoria in hegtenis geneem. Die tweede verdagte is Maandagoggend in Lydenburg aangekeer.
Die verdagtes is vasgetrek in verband met die gru-moord op Rudolph van Heerden en sy vrou, Elma.
Sapa het vroeër berig die egpaar, wat albei 79 jaar oud was, is met 'n stomp voorwerp oor die kop geslaan. Hul hande en voete is ook met kabels vasgebind.
'n Motor wat aan die egpaar behoort het, is verlate op die N4-tolpad in die rigting van Middelburg gevind. Twee vuurwapens word ook vermis.
Die Valke het onlangs die ondersoek na dié moord oorgeneem.
Die polisie se elite-eenheid het vroeër gesê dit was 'n goed georganiseerde misdaad, wat onder die mandaat van die eenheid val, en daarom het hulle die misdaad begin ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter