Vrieskas-moord: Twee in hof
2013-01-16 10:13
Kaapstad – Twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ‘n bejaarde egpaar van Belfast, Mpumalanga, vermoor het, het pas by die dorp se landdroshof aangemeld.
Hulle sal in die hof verskyn in verband met die gru-moord op Rudolph van Heerden en sy vrou, Elma.
Paul Ramaloko, woordvoerder van die polisie se elite-eenheid, die Valke, het vroeër gesê die eerste verdagte is die naweek in Mamelodi-Oos in Pretoria in hegtenis geneem. Die tweede vermeende moordenaar is vroeër die week in Lydenburg aangekeer.
Dié eenheid het onlangs die ondersoek na die moord oorgeneem.
Die Valke het vroeër gesê hulle het die ondersoek oorgeneem omdat dit 'n goed georganiseerde misdaad was, wat beteken dat dit binne die mandaat van die eenheid val.
Sapa het vroeër berig die Van Heerdens, wat albei 79 jaar oud was, is met 'n stomp voorwerp oor die kop geslaan.
Hul hande en voete is ook met kabels vasgebind. Daarna is hul lyke in ‘n vrieskas gedruk.
Volg Nuus24 op Twitter