'Vries Malema se bates' – DA
2012-10-11 18:01
Johannesburg – Julius Malema se bates moet gevries word nadat die Openbare Beskermer bevind het dat hy onbehoorlik voordeel getrek het uit onreëlmatige tenders, het die DA Donderdag gesê.
"Die owerhede moet nou vinnig toeslaan en al Malema se eiendomme en bankrekeninge vries totdat hy in 'n hof kan verduidelik hoe hy sy rykdom bekom het," het die DA se leier in Limpopo, Jacques Smalle, in 'n verklaring gesê.
Vroeër het die DA se koukusleier in die Limpopo-wetgewer, Desiree van der Walt, gevra dat die voormalige LUR vir paaie en vervoer, Pinky Kekane, as die nuwe LUR vir ekonomiese ontwikkeling bedank.
Kekana was die LUR vir paaie en vervoer toe haar departement 'n tender van R52 miljoen aan On-Point toegeken het.
Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het Woensdag bevind dat Kekane dit op 'n onreëlmatige wyse toegeken het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA