Vriende vas ná moord op broer, suster
2013-01-31 10:58
Johannesburg – Die twee mans wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op 'n broer en suster in Northcliff, Johannesburg, was hul vriende, is Donderdag berig.
Dít is volgens 'n huishulp wat vir Gary Smith en Karen Buchanan gewerk het, het The Star berig. Die broer en suster is op 14 Maart 2008 met lappe vasgebind en hul monde met kleefband toegeplak voor hulle aangerand is. Hul tande is uitgetrek, pyle is na hulle gegooi en Buchanan se klere is uitgetrek. Albei is geskiet.
"Toe ek hoor wat die name is van die mense wat in hegtenis geneem is, was ek geskok," het die huishulp aan die koerant gesê.
"Die mense was vriende van die oorledenes en het gereeld na die huis gegaan."
Die huishulp, wie se naam nie bekend gemaak is nie, het gesê die mans was 'n dag ná die moorde by die huis en het gehuil en hul medelye betuig.
Volgens haar is een van die mans kort ná die moorde in hegtenis geneem, maar hy is kort daarna weens 'n gebrek aan bewyse vrygelaat.
Die mans, wat glo twee weke gelede in Durban en Mbombela in hegtenis geneem is, sal na verwagting Donderdag in die Johannesburgse landdroshof om borgtog aansoek doen.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA