Vriende van Tyibilika ook doodgeskiet
2011-11-15 09:42
Johannesburg – Solly Tyibilika, die oud-Springbok wat Sondag by 'n taverne in Kaapstad doodgeskiet is, is enkele dae ná sy twee vriende doodgeskiet, het The Star berig.
Simon Dan Shumane (25) en Sandile Magunqu (27) is op 17 Oktober saam met Tyibilika in hegtenis geneem toe die polisie 'n 9mm-pistool in hul motor gevind het.
Die polisie in Gugulethu het die motor afgetrek toe hulle sien die motor ry stadig en die hoofligte is afgeskakel.
Tyibilika, Shumane en Magunqu het twee dae later in die Athlone-landdroshof verskyn en is elk op borgtog van R800 vrygelaat. Hulle sou op 26 Januarie weer in die hof verskyn.
Magunqu is in Tomstraat in Gugulethu doodgeskiet en Shumane is 'n week later doodgeskiet.
Shumane was deel van die Westelike Provinsie se Rugbyakademie in 2004 en was in sy tienerjare 'n belowende krieketspeler.
Kapt. Frederick van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het aan die koerant gesê hy kan nie bevestig of die moorde verband hou met mekaar nie.
"Die sake word tans apart ondersoek, maar indien 'n verband tussen die sake gevind word sal die ondersoekbeamptes die sake kombineer."
Intussen het die rugbyklub Hamiltons, vir wie Tyibilika tot onlangs uitgedraf het, intussen gesê hulle sal die gesin help om vir sy begrafnis te betaal.
Mense wat 'n bydrae wil maak kan die geld in die rekening deponeer.
Banknaam: ABSA
Rekeningnaam : Hamilton School of Excellence
Takkode : 632005
Rekeningnommer: 40669887660
Verwysing: SOLLY
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA