Vriende van Reeva stel private speurder aan
2013-02-26 09:38
Johannesburg – Vriende van Reeva Steenkamp het 'n private speurder aangestel om haar dood te ondersoek, het 'n berig Dinsdag gelui.
Steenkamp se familie het egter aan Beeld gesê hulle is nie bewus van dié speurder nie, en haar pa, Barry, het bevestig dat hy nie die speurder gevra het om ondersoek in te stel nie.
Die model se “Johannesburg-pa” het ook ontken dat hy die speurder se dienste bekom het.
Steenkamp is op Valentynsdag in die Pretoriase huis van die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius doodgeskiet.
Die vriende, wie se identiteit nie bekend gemaak is nie, het speurder Lance Epstein glo genader en gevra om “'n oog [te] hou oor die ondersoek”.
Intussen het Reeva Steenkamp se ouers regsverteenwoordigers aangestel om hulle belange te beskerm.
June en Barry Steenkamp het in 'n verklaring wat Maandag vrygestel is, gesê dit is 'n baie traumatiese en hartseer tyd vir hulle, en hulle verstaan die intense mediabelangstelling wat met die saak gepaardgaan, het Eyewitness News berig.
Die Steenkamps het die media gevra om hulle privaatheid te respekteer en gesê hulle sal vir eers nie enige onderhoude toestaan nie.
Die prokureur Mike Venter en senior advokaat Dup de Bruyn is deur die Steenkamp-familie aangestel om na hulle belange om te sien, het die berig gelui.
Pistorius se volgende hofverskyning is op 4 Junie.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.