Vriend wil lyk van Malema se ma opgrawe
2013-01-15 09:22
Johannesburg – Julius Malema, geskorste leier van die ANC se jeugliga, het klagte teen ‘n voormalige vriend, Boy Mamabolo, ingedien, het die polisie gesê.
“Julius het Sondag om 19:26 ‘n saak van crimen injuria by die Polokwane-polisiestasie geopen,” het brig. Hangwani Mulaudzi gesê.
Hy sê die polisie ondersoek die saak en neem dit nie ligtelik op nie.
“Dreigemente... ons neem hulle nie baie ligtelik op nie, want as iemand jou dreig, beteken dit hy het bedoelings...” het die polisiebeampte gesê.
The Star berig Mamabolo het na bewering gedreig om die oorskot van Malema se ma, Mahlodi Malema, op te grawe en dit voor sy ouma se huis in Seshego te strooi.
Dit kom nadat Malema na bewering sy bondgenote gestuur het om seks met Mamabolo se vriendin te hê.
Die koerant berig Mamabolo het ‘n SMS aan Malema gestuur.
“Hierdie keer wil ek jou wys dat ek meer brutaal is, en Mahlodi uit haar graf opgrawe en haar voor [jou ouma se huis] neerlê. Jy het baie slegte dinge aan my gedoen,” het die boodskap gelees.
Mamabolo beweer Malema het Jacob Lebogo, sekretaris van die ANCYL in Limpopo, en sy bondgenoot Jossie Buthane aangesê om met sy vriendin te slaap.
Mamabolo het later glo erken dat hy ‘n beledigende boodskap aan Malema gestuur het, maar beweer hy is uitgelok.
Aanklagte van crimen injuria hou verband met die aantasting van 'n mens se waardigheid.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA