Vriend vas ná Parow-moorde
2010-06-16 06:25
Maygene de Wee
Parow - Plasse bloed in die sitkamer en die gang en twee bebloede telefone is die stille getuienis van ’n dubbele moord in die rustige woonbuurt Parow-Wes.
Terwyl die polisie nog gis wat die motief vir die moorde Maandagmiddag kan wees, het familielede Dinsdagoggend die slagoffers as Nicolene Kroese (20) en haar vriendin Stefani Gouws (19) geïdentifiseer.
Bure het gesê die woning waarin Kroese het saam met haar ma, Elizabeth (Vierrie) Kroese, gewoon het, is bedags oorval deur “ongure karakters” wat tydig en ontydig daar besoek afgelê het.
Gouws het na verneem word Maandag daar gekuier.
Volgens ’n buurman, wat net as Taswill bekend wil staan en glo ’n vriend van Kroese was, het hy, sy en Gouws dwelms gebruik, onder meer tik en dagga.
Kroese se suster, Suzette Strydom (27), het erken dat haar suster vroeër dwelms gebruik het, maar sê dat sy al ’n tyd lank “skoon” was.
’n Man (26) is op die toneel in hegtenis geneem. Hy sal môre op twee aanklagte van moord in die Bellville-landdroshof verskyn. Die verdagte was glo ’n vriend van Kroese.
Strydom het gesê haar ma het Maandagmiddag omstreeks 16:15 op haar suster se lyk in hul sitkamer afgekom.
“Ek het my ma hoor skreeu. Ek is na die sitkamer, waar ek my ma in die deur sien staan het.
“Sy het geskreeu: ‘Nicolene is dood.’
“Daar was ’n rooi merk om haar nek en haar een oog was potblou geslaan. Dit lyk of sy verwurg is.”
Hulle het daarna op haar vriendin se lyk in die gang afgekom.
“Dit het gelyk asof sy probeer het om iemand te bel.”
Suzette het gesê die polisie het beslag gelê op ’n klein steakmessie wat gevind is langs die bank waarop haar suster se lyk was. Die mes was glo vol bloed.
Ao. Jacques Mostert, Parow-polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n 26-jarige man in hegtenis geneem is.
Die polisie het nie bevestig dat daar op ’n mes beslag gelê is nie.
- Die Burger