Vriend van Malema na presidensie
2010-04-01 08:51
Kaapstad - Luthuli-huis het sy greep op die Uniegebou verstewig.
Zizi Kodwa wat as pres. Jacob Zuma se persoonlike woordvoerder optree en navrae in sy hoedanigheid as ANC-leier hanteer, is in ’n “raadgewende pos” na die presidensie in Pretoria herontplooi.
Vusi Mavimbela, direkteur-generaal in die presidensie, het Woensdag gesê Kodwa moet die presidensiële kommunikasie-eenheid “help om dinge te sien wat ons voorheen nie raakgesien het nie”.
Groot verwarring het geheers oor wie nou eintlik namens Zuma praat sedert Kodwa ’n paar weke gelede Uniegebou toe gestuur is.
Selfs Vincent Magwenya, Zuma se woordvoerder, was in daardie stadium in die duister oor Kodwa se skuif.
Mavimbela het volgehou dat Magwenya steeds die presidensiële woordvoerder is, maar dat die “onduidelike skeidslyn” tussen staat en party die ANC en die regering noop om nouer saam te werk.
“Daarom is Kodwa van Luthuli-huis (die ANC se hoofkantoor in Johannesburg) na die presidensie gesekondeer. Die rede is omdat dit moeilik is om te bepaal wanneer Zuma as staatshoof optree en wanneer hy as ANC-leier optree... sommige mense kan nie die onderskeid tref nie. Ons moet nouer saamwerk ten einde dit beter te bestuur,” het hy tydens ’n inligtingsessie gesê.
Kodwa is ’n voormalige woordvoerder van die ANC-jeugliga en word beskou as ’n vertroueling van Fikile Mbalula, adjunkminister van polisie.
Hy is ook ’n vriend van Julius Malema, die jeugliga se omstrede leier.
Mavimbela het gesê die presidensie word in sy geheel geherstruktureer en vergroot.
Dit is om te verseker dié kantoor is gereed om behoorlike langtermyn-beplanning te kan doen, deeglik te kan moniteer en evalueer en geposisioneer is “om te kan ingryp waar nodig”.
- Die Burger