Vrese oor terreur met WB vlam weer op
2010-05-31 07:21
Karen Ebersohn en Earl Coetzee
Bloemfontein – Vrese oor die bestaan van daadwerklike planne om die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika met terreur te ontwrig, is opnuut aangewakker.
’n Sondagkoerant het gister berig oor terroristebewegings in Suider-Afrika wat die afgelope week aangemeld is.
Die polisie sê egter dit is glad nie waar nie en dié koerant se feite is “ongegrond en anonieme bronne word gebruik”.
Luidens ’n onlangse uitgawe van die ekstremistiese Islamistiese aanlyn-tydskrif Mushtaqun Lel Jannah, wat op die webwerf Jihadwatch.org gepubliseer is, het Al-Kaïda beslis planne.
Die webwerf monitor aanlyn-bedrywighede van Islamitiese ekstremiste, asook nuusmedia wêreldwyd.
Al-Kaïda het glo ’n moordlys van lande wat moontlik tydens die toernooi die teiken kan word. Benewens Amerika en Engeland word wedstryde van Duitsland, Italië en Frankryk ook glo genoem as moontlike teikens.
“Al dié lande is deel van die Sionistiese kruistog teen Islam,” lui die berig.
Die groep vra uitdagend of Fifa se voorbereidings vir die toernooi goed genoeg is om hom te verhinder4 om plofbare materiaal in stadions in te smokkel.
Al die veiligheidsbeheer- en x-straalmasjiene wat Amerika sal stuur op grond van dié berig, sal nie die ploftoestelle kan optel wat stadions binnegebring sal word nie.
Jihadwatch berig ook dat Al-Kaïda-selle onlangs basisse in Mosambiek begin het.
Dit is glo weens die besef dat nie genoeg veld in die oorloë in Afgani-stan en Irak gewen word nie dat besluit is om Amerikaners in Suid-Afrika te kom aanval.
Luidens ’n polisieverklaring van Natjoints (die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur wat deur die polisie aangevoer word) bestaan geen militêre groepe in Suider-Afrika nie.
“Ons kan verklaar dat geen terreuraanval op die sokkertoernooi bestaan nie. Alle planne is gereed en spanne wat reeds in die land is, word deur polisielede omring.”
Volksblad het ’n lys vrae rakende die veiligheid en moontlike terreur-aanvalle aan die Vrysaatse polisie gestuur.
Kol. Sam Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê die polisie hier word nie toegelaat om oor taktiese veiligheidskwessies en planne kommentaar te lewer nie.
Hy sê wel dat genoeg lede van verskillende veiligheidsmagte, soos die polisie, weerwag en ander departemente, reeds aan veiligheidsplanne werk sedert Suid-Afrika as gasheerland aangewys is.
“Ons is gereed vir enigiets wat kan gebeur.”
Makhele het ook die versekering gegee dat normale polisiëring soos gewoonlik sal voortgaan.
Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-munisipaliteit, sê hy was self verbaas oor die vlak van veiligheid in Bloemfontein.
“Ek kan nie hieroor uitwei nie, want uit die aard van die saak is die veiligheidsplan geheim.”
Hy het gesê ’n indrukwekkende stelsel van veiligheidskameras, wat 360 grade kan beweeg, is opgerig.
Daar is ook ’n beheerkamer wat 24 uur per dag beman word met tegnologie “soos ’n mens nog net in rolprente gesien het”.
- Volksblad
- Volksblad