Aktrise: Vrees lei tot selfmoord
2010-08-20 06:35
Die Burger
Kaapstad - Vrees vir mislukking en eensaamheid was glo die twee hoofredes waarom Fiona Coyne selfmoord gepleeg het.
Dít het aan die lig gekom in twee selfmoordbriewe wat Woensdag in haar huis in Vishoek gevind is.
Coyne (45), ’n bekende aktrise en TV-aanbieder, se lyk is Woensdag omstreeks 08:40 in haar slaapkamer in haar huis in Vishoek gevind. Twee briewe, gerig aan onderskeidelik haar ma, Dolly Coyne, en haar huishulp, Zoleka Shumani, is in die huis gevind. Shumani het die afgelope ses jaar vir Coyne gewerk.
Die Burger het Donderdag van ’n betroubare bron verneem dat Coyne voor haar dood reëlings getref het en dit duidelik gemaak het wat met haar besittings gedoen moet word.
Shumani (36) het Woensdagoggend die eerste brief met haar naam daarop op die kombuistafel gekry.
“Die brief het begin deur te sê sy is baie jammer en dat ek dadelik die polisie moet bel. Sy het selfs die nommer vir my neergeskryf.”
Coyne het verder in die brief gesê sy kan enigiets in die huis wat sy wil hê vir haar vat, selfs haar juweliersware.
“Ek het nie besef wat aangaan nie en het dadelik die polisie gebel.”
Die polisie het kort daarna by haar huis opgedaag en Coyne se lyk in haar bed gevind.
Die tweede brief aan haar ma is in Coyne se slaapkamer gevind.
Die Burger het betroubaar verneem dat sy in dié brief gesê het haar bedoeling was nie om enigiemand te straf nie, maar dat sy al die voor- en nadele in haar lewe oorweeg en haar besluit op grond daarvan geneem het. Sy het glo ook laat blyk dat vrees haar grootste bekommernis is – onder meer vrees vir mislukking en vrees om alleen oud te word.
Reëlings is na verneem word getref om die huis te verkoop en hoe dié geld verdeel moet word.
Volgens iemand na aan Coyne blyk dit een van haar laaste wense was dat haar gewese man, Willie Fritz, na haar twee honde, Malaika en Tamu, moet omsien.
Kee-Leen Irvine, ’n familiewoordvoerder, het gesê die uitslag van die nadoodse ondersoek gaan eers vandag bekend gemaak word.
“Geen begrafnisreëlings is nog getref nie. Ons sal dit seker vandag finaliseer,” het sy gesê.
Volgens kapt. Stephen Knapp, ’n polisiewoordvoerder, is die nadoodse ondersoek nie afgehandel nie.
Lulu Xingwana, minister van kuns en kultuur, het intussen gereageer op Coyne se dood.
“Ons is almal diep geskok oor die heengaan van Fiona Coyne. Suid-Afrika het ’n talentvolle en veelsydige mens verloor.”
Xingwana het haar innige meegevoel teenoor die familie betuig. “Mag haar erflating voortleef.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger