Vredemaker doodgesteek
2012-01-25 19:56
Johannesburg – ‘n Man is doodgesteek toe hy tussenbeide probeer tree het by ‘n bakleiery tussen twee mense in George, het die Wes-Kaapse polisie Woensdag gesê.
Johannes Bruiners (40) het ‘n vrou probeer red wat Dinsdag omstreeks 14:00 deur ‘n man in Brucestraat aangerand is, het kapt. Malcolm Pojie gesê.
“Bruiners het tussenbeide getree toe die man die vrou met die handvatsel van ‘n mes geslaan het,” het hy gesê.
“Die woedende aanvaller het toe na Bruiners gedraai en hom in die nek gesteek.”
Hy is op die toneel dood verklaar nadat paramedici probeer het om hom by te bring.
Dit is nie duidelik waarom die 29-jarige man die vrou aangeval het nie.
Volgens Pojie het die polisie hom op die toneel in hegtenis geneem. Die 30-jarige vrou het nie ernstige beserings opgedoen nie.
Die man sal na verwagting Vrydag in die George-landdroshof verskyn op aanklag van moord.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA