Vragmotor vol ingevoerde motors gekaap
2010-08-04 14:18
Johannesburg – Tien hewig gewapende mans het ‘n vragmotor wat ses ingevoerde voertuie vervoer het buite Bethlehem gekaap, het polisie in die Vrystaat Woensdag gesê.
Sers. Mmako Mophiring sê die mans het glo die bestuurder van die vragmotor beveel om die voertuie af te laai, voor hul met ses motors gevlug het.
Die vragmotor was van Durban na Namibië onderweg toe die kaping op die M5-snelweg plaasgevind het.
Dit is deur ‘n Nissan Hardbody, Nissan Navara en Mercedes Benz, van die pad af forseer. Een van die voertuie het glo van 'n blou lig gebruik gemaak.
Die kapers het ‘n swart Toyota Allax 1500, ‘n silwer 2005 VW Golf, ‘n blou Mazda Excella, ‘n 2006 VW Golf 2 liter, ‘n silwer 2006 VW Golf en ‘n 2006 Mazda RX8.
Dit is nie bekend of die voertuie as ‘n konvooi of elk in hul eie rigting van die toneel gevlug het nie en dit is ook nie bekend waarheen die verdagtes onderweg is nie.
- SAPA