Vragmotor ry Jub Jub-betoger dood
2010-03-18 15:06
Johannesburg - ’n Graad 10-leerling is deur ’n vragmotor doodgery toe hy na die Protea-landdroshof in Soweto op pad was om te betoog, het die Gautengse departement van onderwys gesê.
Charles Phahlane, die woordvoerder van die departement, het gesê die voorval het Woensdag plaasgevind.
Die leerlinge het glo pas die Thutolore-Sekondêre Hoërskool verlaat toe die voorval plaasgevind het.
"Hulle was glo na die hof op pad om teen die mede-beskuldigdes, Jub Jub en Themba Tshabalala se borgaansoek te betoog," het Phahlane aan Sapa gesê.
“Die leerling het na bewering op die vragmotor gespring, maar gegly en geval.”
Die seun was ‘n leerling aan die Hoërskool Anker in Meadowlands.
“Die departement is bewus van die situasie waar sommige leerlinge aan die betoging buite die hof deelneem en ons is besig om dit te hanteer.”
Jub Jub en sy vriend staar vier aanklagtes van moord in die gesig nadat hulle glo verlede week vier kinders gedurende ‘n jaagtog doodgery het.
Jub Jub huil in hof:
Intussen beplan Jub Jub om onskuldig te pleit op vier aanklagte van moord.
"Die Almagtige Here kyk nou na my. Ek voel nie goed nie,” het ’n huilende Maarohanye gesê.
"Ek het nooit ‘n misdaad gepleeg nie. Ek het dit nie bedoel nie.”
Hy het sy gevoel van medelye teenoor die families van die vier kinders wat op 8 Maart gesterf het, uitgespreek.
Jub Jub, wat baie sag gepraat het, het gesê hy kan nie sê of hy borgtog kan bekostig nie.
“Ek sal enigiets doen om my lewe terug te kry,” het hy gesê.
"Ek was nie onder die invloed van enige drank of dwelms nie en ek was nie besig om 'n straatresies te jaag nie," het hy verder gesê.
- Sapa