Vragmotor rol, bestuurder sterf
2009-12-07 11:54
Johannesburg - ‘n 41-jarige man is dood nadat sy vragmotor op die R25 naby Bapsfontein in Gauteng gerol het, het die polisie gesê.
Johannes Jaftha, ’n woordvoerder vir die polisie in Cullinan, het gesê die bestuurder was onderweg na Groblersdal om ‘n vrag van 10 000 brode af te laai toe hy beheer verloor en die vragmotor in die rigting van aankomende verkeer geswaai het.
“Die vragmotor het ‘n paar keer gerol,” het Jaftha gesê.
“Die bestuurder is op die toneel dood verklaar.”
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en die polisie weerhou die naam van die oorledene totdat sy familie in kennis gestel is.
- Sapa