Vragmotor ploeg in taxi in op N3
2010-04-02 06:54
Johannesburg – Een persoon is Vrydagoggend dood en 11 beseer toe ‘n vragmotor met ‘n stilstaande taxi op die N3-hoofweg in KwaZulu-Natal gebots het, het nooddienspersoneel gesê.
“Na bewering het die taxi van die pad afgetrek omdat dit meganiese probleme ervaar het,” het Victoria Jackson, ER24-woordvoerder, gesê.
‘n Vragmotor het na bewering in die stilstaande taxi ingeploeg. Volgens ooggetuies op die toneel het dit gelyk of die taxi met ‘n blikoopmaker oopgesny is.
Die vragmotor het glo beheer verloor en teen ‘n 60m hoë wal afgerol en op sy dak te lande gekom. Die bestuurder van die vragmotor is ernstig beseer tydens die voorval. Dit het nooddienswerkers sowat 2 ure geneem om hom uit die wrak van die vragmotor te bevry.
Die voorval word steeds deur die polisie ondersoek.
– Sapa