Vragmotor met Hop-bakstene aan die brand gesteek
2011-04-29 11:04
Johannesburg - ‘n Vragmotor wat bakstene afgelewer het om Hop-huise in Botshabelo te bou, is deur die plaaslike gemeenskap aan die brand gesteek, het die Vrystaatse polisie Vrydag gesê.
‘n Groep van sowat 40 gewapende mense het die bestuurder beveel om uit die vragmotor te klim, het konst. Consolation Mokoale gesê.
Die groep het van die bakstene van die vragmotor gelaai en dit gebruik om die pad te versper voor hulle die voertuig aan die brand gesteek het.
Die vragmotor en gebrande bakstene is op die toneel gevind.
Mokoale het gesê hulle weet nie wat die motief vir die misdaad was nie.
‘n Saak van kwaadwillige saakbeskadiging is geopen maar niemand is al in hegtenis geneem nie.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA