Vraestelle kos R8 m. om te vervang
2010-06-07 10:11
Beeld
Kaapstad. – Dit het die belastingbetaler meer as R8 miljoen gekos om matriekvraestelle te vervang nadat dit verlede jaar in Mpumalanga uitgelek het.
Die departement van basiese onderwys het in antwoord op ’n parlementêre vraag van dr. Junita Kloppers-Lourens, DA-LP, gesê dié bedrag sluit in die koste van drukwerk, verpakking en verspreiding van die nuutopgestelde vraestelle.
Vroeër is berig dat ses matriekvraestelle verlede jaar in die matriekeindeksamen in Mpumalanga uitgelek het.
As voorsorgmaatreël het die onderwysdepartement vyf van die vraestelle vervang en elke provinsie het nuwe vraestelle ontvang.
’n Geregtelike ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van minstens 13 verdagtes, onder wie ’n amptenaar van die Mpumalanga-onderwysdepartement wat verantwoordelik was vir datavaslegging, ’n tronkbewaarder, ses matrikulante en ’n winkelassistent.
Die ondersoek het ’n bedrognetwerk oopgevlek wat getoon het dat matriekvraestelle vir tussen R150 en R200 aan matrikulante verkoop is.
Die verdagtes het reeds in die hof verskyn en die saak is uitgestel tot verdere kennisgewing.
Volg Beeld op Twitter
- Beeld