Vrae, verwarring ná Soweto-trein ontspoor
2013-01-08 17:56
Johannesburg – Agt mense het Dinsdag mediese behandeling ontvang ná 'n trein in Soweto ontspoor het, maar woordvoerders van die treinoperateur en Johannesburg se nooddienste het verskillende weergawes gehad van wat gebeur het.
Johannesburg se nooddienste het gesê die passassiers is behandel vir beserings wat opgedoen is terwyl hulle uit 'n wa gespring het, terwyl Metrorail gesê het hulle is vir skok behandel.
Die trein het Dinsdagmiddag tussen die New Canada- en Crown Mines-stasie ontspoor.
Robert Mulaudzi, 'n woordvoerder vir Johannesburg se nooddienste, het gesê die agt passasiers het van die trein af gespring toe hulle rook gesien het en gedink het dit is aan die brand.
Een van die passasiers het kritieke beserings opgedoen, terwyl die ander slegs gering beseer is. Hulle is op die toneel behandel, en daarna na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem.
Metrorail se provinsiale woordvoerder, Thembela Khulu, het egter gesê niemand het van die trein af gespring nie, en dat die passasiers net behandel is "vir skok".
"... Daar is geen fisieke beserings nie," het sy gesê.
Khulu het gesê die rook wat passasiers gesien het, was van gras wat langs die spoor gebrand het.
Sy het gesê die oorsaak van die ontsporing is nog nie vasgestel nie.
"Ons weet nie tans nie. Tegnici is op die oomblik op die toneel. Dis nie iets ernstigs nie."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA