Vrae oor miljoene aan prokureursfirma
2013-01-25 08:05
Johannesburg – Die Noordwes se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gaan ondersoek hoe 'n prokureursfirma meer as R13 miljoen betaal is, het die provinsiale wetgewer gesê.
Namhla Luhabe, woordvoerder, het die gesê die voormalige LUR van finansies, Loiusa Mabe, die huidige LUR, Paul Sebegoe, en die waarnemende hoof van die departement, Geo Paul, kon nie 'n duidelike oorsig aan die komitee verskaf oor verkrygingsprosesse wat gevolg is in die aanstelling van 'n prokureursfirma nie.
Morake Attorneys is meer as R13 miljoen betaal om 'n tugverhoor te reël vir die geskorste hoof van die departement, Johannes Mohlala. Hy is in Julie 2011 geskors omdat hy glo ondermeer nie instruksies van sy hoofde wou uitvoer nie.
Luhabe het gesê Sebegoe het aan die komitee gesê die firma is R15,4 miljoen betaal om Mohlala se verhoor en dié van Harrieta Kasirivu, hoof- finansiële beampte, en Peter Mogoane, hoofdirekteur, te hanteer.
"Die sake van die laaste twee is afgehandel, maar albei het appelleer. Morake Attorneys is R13 332 449,95 betaal vir die tugverhore van die drie en is ook R2 126 930,33 betaal vir ander regskwessies in dieselfde departement."
Die waarnemende hoof kon nie bevredigende antwoorde verskaf toe hy gevra is hoe die prokureursfirma aangestel is nie, het Luhabe gesê.
Morake Attorneys se fooi was sowat vyf keer hoër as dié van ander firmas.
Hlomane Chauke, voorsitter van die komitee, sal volgende week met Thandi Modise, die premier, vergader.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA