Vrae oor 'kopdokter' op Frankfort
2011-09-05 09:14
Frankfort – ’n Misdaadklag gaan vandag teen ’n dokter van hier ingedien word nadat hy hom na bewering onwettig as ’n psigiater voorgedoen het.
Marchand du Plessis, DA-raadslid, het Sondag aan Volksblad bevestig dat hy en sy vrou, Lelanie, ’n klag by die polisie gaan indien nadat dr. Paul Fitzgerald ’n psigiatriese sessie met sy vrou gehad het, terwyl hy nie geregistreer is om as ’n psigiater in Suid-Afrika te praktiseer nie.
Kommer is ook teenoor die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) uitgespreek oor Fitzgerald, wat reeds in Brittanje én Australië aan wangedrag skuldig bevind is.
Dr. Maurice Saadien-Raad (63) het in 2009 sy naam verander en praktiseer nou onder die naam Paul Fitzgerald hier.
Luidens ’n hofuitspraak, wat in Junie vanjaar in die Verenigde Koninkryk gelewer is, is Saadien-Raad van Brittanje se mediese register geskors.
Volgens inwoners van Frankfort het Saadien-Raad, oftewel Fitzgerald, hom in April op dié dorp kom vestig en as algemene praktisyn in die woonbuurt Namahadi begin praktiseer.
Sommige van sy pasiënte hier het sy metode as “ongewoon” beskryf.
’n Voornemende pasiënt het die ontdekking van sy verlede op die internet gemaak en dit onder die aandag van Du Plessis gebring.
Du Plessis het verdere ondersoek ingestel en het aan Volksblad gesê hy was geskok toe sy vermoede bevestig is.
Du Plessis sê as DA-raadslid tree hy in die belang van die gemeenskap van Namahadi op en hulle is sy grootste bekommernis.
“Nadat ek sy verlede nageslaan het en die oortredings gesien het waaraan hy skuldig bevind is, voel ek dat hy inwoners in gevaar plaas met sy metodes. Hulle plaas hul vertroue op ’n dokter met só ’n geskiedenis.”
Lynette Swanepoel, koördineerder van die Raad van Gesondheidsorgfinansiers se forensiese eenheid, sê Saadien-Raad is al deur twee siekefondse ondersoek weens geld wat hy wou eis vir toestelle teen allergieë wat hy vir pasiënte aangekoop het, maar wat die pasiënte glo nooit ontvang het nie.
Luidens die verslag wat deur die Raad van Gesondheidsorgfinansiers van Suider-Afrika uitgestuur is, is hy in Australië en die VK aan wangedrag skuldig bevind.
Swanepoel het bevestig dat Saadien-Raad wél ’n naamsverandering ondergaan het.
Sy vermoed hy het teen April vanjaar na Suid-Afrika teruggekeer.
“In my ondersoek het ek verskeie verklarings van die internet gekry oor die onderduimse aktiwiteite en skuldigbevindings van dr. Maurice Saadien-Raad, nou bekend as dr. Paul Fitzgerald.”
Swanepoel het dieselfde dokument as Volksblad onder oë gehad wat Saadien-Raad se onprofessionele gedrag uitbeeld, terwyl hy as ’n psigiater in die VK gepraktiseer het – ’n posisie wat hy na bewering weens ’n “misleidende en onakkurate CV” beklee het.
Fitzgerald het in ’n telefoniese onderhoud met Volksblad alle aantygings ontken.
Hy het gesê dat hy na Frankfort gekom het om ’n nuwe begin te maak en dat die aantygings op die internet slegs aantygings is.
“Aantygings is aantygings, mense moet hul logiese denke gebruik. Ek weet nie wat julle bedoeling is en of julle net sensasie soek nie, maar as julle hierdie aantygings gaan druk, gaan ek my tasse pak. Ek het nie dié stres in my lewe nodig nie. Die verlede is die verlede en ek sal nie onder sulke stres leef nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad