Vrae oor burgemeester se ongeluk
2010-10-12 06:21
Volksblad
Bloemfontein - ’n Beweerde beskonke Playfair Morule, uitvoerende burgemeester van die Mangaung-munisipaliteit, en ’n vroulike parlementslid was glo die afgelope naweek in die vroeë oggendure in Bloemfontein in ’n ongeluk betrokke.
Morule was glo reeds van die ongelukstoneel “verwyder” toe die polisie daar opdaag.
Verskeie ooggetuies het aan Volksblad bevestig dat die burgemeester die luukse Mercedes-Benz C63 AMG met die registrasienommer 2 PEOPLE FS bestuur het.
Hy is glo deur ’n kollega, Qondile Khedama, met ’n swart dubbelkajuit-bakkie van die toneel af “gesteel”.
Khedama se enigste reaksie op vrae wat Volksblad aan hom per e-pos gestel het, was: “Ek weet nie waarvan julle praat nie.”
Morule was op Vrydagaand 24 September ook in ’n ongeluk betrokke. Hy is in 2008 gevonnis nadat hy in 2006 ’n voetganger middeldeur gery het.
Verskeie hooggeplaaste ANC-lede het glo by die ongelukstoneel opgedaag en ooggetuies en polisielede geïntimideer en gedreig.
Thapelo Matsoeneng, wat die rooi Toyota Corolla bestuur het waarteen Morule gebots het, is glo geld aangebied om ’n verdraaide weergawe van gebeure in sy verklaring te gee.
Die Mercedes is geregistreer in die naam van die maatskappy Ka Rona Trading 559 Bloemfontein en die maatskappy se adres is dieselfde as Morule se woonadres.
Die eienaar van die maatskappy is T. Morule. Morule se vrou is Tankiso Morule.
Die waarde van die voertuig is meer as R800 000.
Volgens kapt. Elsa Gerber, woordvoerder van die polisie, word ’n ongeluk waarby dié Mercedes betrokke was, ondersoek.
Sy sê die tyd van die ongeluk is aangedui as Vrydagaand 20:30 en het by die kruising van Kerk- en George Lubbestraat in die suide van Bloemfontein plaasgevind.
Volgens Gerber word die bestuurder van die voertuig aangedui as Faith Bikani. Bikani is lid van die parlement in Kaapstad.
Volgens ooggetuies is op die toneel besluit om te verklaar dat Bikani die bestuurder was.
Nooddienste wat die ernstig beseerde Matsoeneng na die Pelonomi-hospitaal vervoer het, het bevestig die ongeluk het Saterdag om 04:10 plaasgevind.
Bikani het Maandag aan Volksblad gesê sy weier om kommentaar te lewer.
Op ’n vraag of sy en Morule alkohol gebruik het, het sy haar selfoon doodgedruk.
Neo Masitela, politieke raadgewer van Morule, het Maandag by navraag gesê Morule se vrou se motor, wat sy aan ’n kollega geleen het, was in ’n ongeluk.
William Bulwane, woordvoerder van die premier, Ace Magashule, het gesê die premier het verneem van die ongeluk.
Hy het Volksblad na Khedama verwys.
Khedama se enigste reaksie op vrae wat Volksblad aan hom per e-pos gestel het, was: “Ek weet nie waarvan julle praat nie.”
Gerber sê ’n klag van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.
- Volksblad