Vrae oor bestuurder se enorme salaris
2011-05-16 07:06
Kimberley - Die DA gaan vandeesweek amptelike vrae aan die LUR van samewerkende regering vra oor die geheimsinnigheid om die salaris van Sol Plaatje se munisipale bestuurder.
Phillip Voster, DA-raadslid, sê hy het in ’n stadsraadsvergadering voorgestel die inligting oor die aanstelling van ’n munisipale bestuurder mag nié vertroulik wees nie.
“Die uitvoerende burgemeester het egter beswaar aangeteken en die speaker het gesê die saak is geslote.
“Dit is nie die eerste keer dat DA-kennisgewings van ’n mosie of voorstelle deur die DA deur ANC-raadslede gekeer is nie.
“Daar kan geen vertroulikheid oor die munisipale bestuurder se aanstelling of voorwaardes wees nie.
“Dit is wat die Munisipale Finansiële Bestuurswet, Wet 56 van 2003, se afdeling 124 bepaal.
“In die notas van die jaarlikse finansiële state moet die besonderhede van die munisipale bestuurder en alle senior bestuurders se salarisse, voordele en toelaes ingesluit wees. Die munisipale bestuurder se salarispakket is met sy aanstelling met ongeveer 68% verhoog. In die 2011-’12- begroting is die salaris (sonder die prestasiebonus) met nóg 17,38% verhoog tot R1 940 439. Sy salaris is nou dieselfde as vir ’n metro-munisipaliteit. Dit beteken hy verdien byna R1 miljoen meer as sy direkteure.”
Die provinsiale leier van die DA, Andrew Louw, vra daarom aan die LUR vir koöperatiewe regering, Kenneth Mmoeimang, om ’n einde vaan die vertroulikheid te maak.
“Hoekom is die salarispakket in 2009-’10 met 68% verhoog om die ampsdraer tegemoet te kom? Hoe is die pakket onderhandel en met wie? Moet die salaris jaarliks verhoog word? Betaal die munisipaliteit die volle salaris of word dit aangevul deur ander partye om met dié salaris vol te kan hou?” vra Louw.
Intussen het Cope se provinsiale sekretaris in die Noord-Kaap, Fezile Kies, ’n beroep op alle partye in die Diamantstad gedoen om hul burgemeesterskandidate bekend te maak.
“Ons glo dit sal inwoners werklik bemagtig. ’n Debat met kandidate sal burgers ’n goeie geleentheid bied om te luister na wat leiers wil doen met die stad. Dan kan hulle hul demokratiese stem uitbring.
“Die Sol Plaatje-munisipaliteit het die afgelope vyf jaar gely onder swak administrasie en bestuur en die minagting van finansiële protokol. Die ontwrigtende kaderontplooiing en binnegevegte het veroorsaak dat die munisipaliteit sedert 2006 drie burgemeesters gehad het. Hulle is almal daar geplaas deur faksies wat hul eie finansiële belange nagejaag het. Die gemeenskap is nooit geraadpleeg nie,” het Kies gesê.
- Volksblad