Vrae oor SA paspoort vir Al-Kaïda-hoë
2011-06-14 08:11
Pretoria - Die departement van binnelandse sake het reeds met ’n ondersoek begin om te bepaal hoe ’n senior Al-Kaïda-leier ’n Suid-Afrikaanse paspoort bekom het.
“Ons moet eerstens bepaal wáár en deur wie die paspoort uitgereik is. As ons sou vasstel dat iemand dit met duistere motiewe uitgereik het, sal daardie persoon met die volle mag van die wet vervolg word,” het Ronnie Mamoepa, woordvoerder vir die departement, Maandag gesê.
Fazul Abdullah Mohamed, Al-Kaïda en Al-Shabaab se leier in Oos-Afrika, is die afgelope week “per ongeluk” by ’n padversperring deur die Somaliese polisie doodgeskiet.
Hy het ’n Suid-Afrikaanse paspoort in die naam van Daniel Robinson, sowel as $40 000 kontant by hom gehad.
Volgens Elizabeth Kennedy Trudeaux, woordvoerder van die Amerikaanse ambassade in Pretoria, blyk dit uit beskikbare gegewens dat Mohamed die paspoort in 2009 bekom het.
Hy het ’n uitgangsvisum vir Somalië uit Suid-Afrika, wat 19 Maart gedateer is, gehad. Daar was egter geen verdere stempels om aan te dui watter roete en hoe hy tot in Somalië gereis het nie.
Mohamed was op die FBI se lys van mees gesoekte terroriste, omdat hy die opperbrein agter die aanvalle op Amerikaanse ambassades in Dar es Salaam en in Nairobi in 1998 was.
Sy identiteit is deur die FBI in Nairobi bevestig. Volgens Trudeaux was me. Hillary Clinton, minister van buitelandse sake, juis in Dar es Salaam om hulde te bring aan die slagoffers van dié bomme. Meer as 220 Keniane en 12 Amerikaners is in die ontploffing dood.
“Die feit dat Mohamed uiteindelik gevang en doodgeskiet is, het waarskynlik ook beteken dat dié slagoffers berusting kon vind,” het Trudeaux gesê.
Al-Shabaab, ’n splintergroep van Al-Kaïda in Somalië wat ook heelwat steun onder die Somaliese gemeenskap in Suid-Afrika geniet, het bevestig dat Mohamed dood is. Hy het glo minstens 18 skuilname gehad wat hy in sy omswerwings gebruik het.
Volgens me. Annelie Botha van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), is antwoorde dringend nodig om te bepaal wanneer Mohamed Suid-Afrika binnegekom het, hoe hy die paspoort in die hande gekry het en wie aan hom skuilplek verskaf het.
“Daar word eenvoudig nie genoeg vrae gevra wanneer vreemdes die land binnekom nie. Dít is hoekom Suid-Afrika ál meer aanloklik lyk vir voortvlugtiges en misdadigers wat ’n tyd lank wil laaglê.
“Selfs al is hulle versigtig om die land deur ’n grenspos binne te kom, kan hulle sonder moeite die grens op ’n onbewaakte plek oorsteek.
“Die probleem is ook nie net die uitreiking van die paspoort nie, maar wie almal stempels het wat dit kan laat lyk of iemand ’n bepaalde land verlaat het terwyl hy nie daarnaby was nie.”
Annette Lovemore van die DA het Maandag gesê dit is die soveelste terroris wat met ’n Suid-Afrikaanse paspoort gereis het.
In 2004 het ’n Tunisiese Al-Kaïda-verdagte erken hy het verskeie Suid-Afrikaanse paspoorte. Die ringleier agter die Londen-bomaanvalle in 2005 het ook een gehad, terwyl verskeie van hulle ook erken het hulle het in Suid-Afrika geskuil.
- Volksblad