Vrae oor Oscar se vuurwapenlisensie
2013-02-15 09:20
Pretoria – Sommige polisiebronne bevraagteken hoe die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius weens sy geskiedenis met huishoudelike geweld, toegelaat kon word om 'n vuurwapen te besit.
Dít volg nadat Pistorius aangekla is van die moord op sy vriendin, die model Reeva Steenkamp. Die ster-atleet verskyn Vrydag in die hof, waar hy om borgtog sal aansoek doen. Die staat sal na verwagting sy aansoek om borgtog teenstaan.
'n Senior polisiebeampte het sy skok uitgespreek toe hy hoor dat Pistorius na bewering sy vriendin in sy huis doodgeskiet het. Hy het gesê Pistorius moes nooit toegelaat word om 'n vuurwapen te besit nie.
Die polisiebeampte, wat anoniem wou bly, het gesê ingevolge die Wet op Huishoudelike Geweld, moes Pistorius nie vuurwapens besit nie.
"Gegewe sy geskiedenis van huishoudelike geweld, moes sy vuurwapenlisensies heroorweeg word."
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter