Vrae oor Maharaj se betrokkenheid by kontrak
2013-02-01 08:54
Johannesburg – Nuwe inligting het aan die lig gekom wat die presidensiële woordvoerder, Mac Maharaj, en sy vrou, Zarina, by 'n korrupte skema betrek, het Eyewitness News berig.
Maharaj se skoonsuster, Shireen Karim, het na vore gekom met inligting wat verband hou met 'n kontrak wat in die 1990's toegeken is vir nuwe rybewyse.
Karim het inligting bekend gemaak van 'n beweerde Switserse bankrekening waarin Maharaj glo gunslone gedeponeer het ná die instelling van Suid-Afrika se kredietkaartstyl-rybewysstelsel.
Die Skerpioene het die beweerde misdaad in 2009 ondersoek, maar die aanklagte is laat vaar.
Karim het die koerant vertel van 'n reis na Genève, waar 'n rekening in die 1990's oopgemaak is en hoe die omstrede sakeman Schabir Shaik na bewering verantwoordelik was vir die verskaffing van die geld.
Maharaj is tans in Londen en kon nie vir kommentaar bereik word nie. Sy prokureur het egter die bewerings as vals bestempel.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter