Vrae ná spogmotor in huis vasjaag
2013-01-18 16:20
Johannesburg – Die bestuurder van 'n Jaguar XF wat vroeër in die week teen ‘n huis in Lyttleton gebots het, het ‘n geskrewe waarskuwing ontvang, het die polisie in Pretoria Vrydag gesê.
Die man het die geskrewe waarskuwing Woensdag ontvang. Hy is ingelig van ‘n aanklag van kwaadwillige saakbeskadiging, die ondersoek in die ongeluk en sy regte, het ao. Annabelle Middelton gesê.
Hy is nie in hegtenis geneem nie en geen datum vir sy hofverskyning is nog vasgestel nie.
“[Hierdie] is nie ‘n skedule-een-oortreding nie, so daar is geen rede dat hy in hegtenis geneem moet word nie. Onthou, daar is sekere misdade waarvoor jy nie ‘n mens in hegtenis neem nie; jy gee net die waarskuwing terwyl ondersoeke voortduur,” het Middelton gesê.
Sodra die ondersoeke voltooi is, kan ‘n hofdatum vasgestel word.
“En hy hardloop nie weg van ons [die polisie] nie.”
The Star het Dinsdag berig die bestuurder, wat glo ‘n staatsamptenaar is wat in die intelligensiediens werk, van die toneel gevlug en die motor met ‘n identiteitskaartjie met die naam LN Makamu agtergelaat het.
‘n Leë whiskybottel en verskeie bierbottels is in die motor gevind.
Die motor was glo vir sowat 12 km bestuur met ‘n band wat heeltemal stukkend was.
Brian Dube, woordvoerder vir die ministerie van veiligheid, sê hy was nie bewus van die voorval of dat enigiemand in die departement ‘n Jaguar bestuur nie, het The Star berig.
Die polisie wou nie die man se identiteit bekendmaak nie.
‘n Inwoner van die huis, Zee Pieterse, sê die impak van die ongeluk was so groot dat dit twee motors wat voor die huis geparkeer was teen die muur van die motorhuis vasgestoot het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA