Vrae aan Cele oor Japan, huur verbode
2011-07-23 11:31
Gerhard Pretorius en Sapa
Johannesburg – Genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, is Vrydag deur sy woordvoerder beskerm teen vrae oor die openbare beskermer (OB) se bevindings teen hom en sy toekoms ná die verdoemende verslag.
Kol. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Vrydag by ’n openbare optrede van Cele gesê hy sal die vraetyd stopsit as enige vraag oor die verslag of ’n moontlike pos vir Cele as ambassadeur in Japan gevra sou word.
Cele het die gedenkdiens bygewoon vir die sewe polisielede wat verlede jaar in ’n helikopterongeluk in eMalahleni (Witbank dood is.
In die OB se verslag is Cele beskuldig dat hy onwettig opgetree het in verband met ’n huurkontrak vir ’n nuwe polisiehoofkantoor in Durban.
Daar is ook bevind daar was ongerymdhede in die huurproses vir ’n Pretoriase hoofkantoor.
Cele se kantoor het in die afgelope week ’n mediakonferensie oor sy reaksie op die OB-verslag uitgestel en die tweede geleentheid afgestel sonder om ’n rede te gee. Die OB het bevind albei huurooreenkomste, van altesame R1,7 miljard, wat met die sakeman Roux Shabangu gesluit is, is onwettig en ongeldig omdat die Grondwet in verskeie opsigte verontagsaam is.
Gwen Mahlangu-Nkabinde, minister van openbare werke, word ook by die omstrede huurooreenkomste betrek.
Mac Maharaj, woordvoerder van die president, het gister sprake ontken dat Cele se werk in die gedrang is en gesê daar is geen waarde agter die gerugte nie.
The Times het Vrydag berig Cele kan dalk landuit gestuur word as ambassadeur na Japan.
“In watter demokrasie vertel die president eers die media van só ’n stap en volg nie die regte stappe nie?” het Maharaj gevra.
Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het ook die gerugte ontken.
Volg Nuus24 op Twitter.