Voortvlugtige in KZN geskiet
2011-03-21 17:07
Johannesburg – Een van die agt mans wat uit polisieselle in Esikhaweni ontsnap het, is Maandag deur polisiebeamptes doodgeskiet.
“Ons het vanoggend 02:00 ‘n man in Eshowe gevang,” het lt. kol. Vincent Mdunge aan Sapa gesê.
“Die man het ‘n vuurwapen te voorskyn gebring en op lede van die polisie geskiet.”
Volgens Mdunge het die beamptes teruggeskiet en die voortvlugtige noodlottig gewond.
Agt verhoorafwagtende mans het verlede Woensdagaand polisiebeamptes by die Esikhawini-polisiestasie oorrompel en ontsnap.
Hulle het met drie van die beamptes se vuurwapens weggekom.
Vier van die mans is verlede week vasgetrek en twee van die vuurwapens gevind.
“Drie mans is steeds op vrye voet,” het Mdunge gesê.
Die vier wat weer gevang is sou Dinsdag in die Esikhawini-landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA