Voortvlugtige Kotzé kry dalk inligting van polisie
2012-01-08 21:46
Johannesburg – Die polisie volg talle leidrade om ‘n man van Modimolle wat sy vervreemde vrou laat verkrag en sy seun vermoor het op te spoor, het die polisie Sondag gesê.
“Ons het baie wenke van lede van die publiek ontvang,” het brig Hangwani Mulaudzi gesê.
Hy het gesê die polisie sal besoek aflê by mense met wie die 50-jarige Johan Kotzé in kontak was.
Kotzé het Dinsdag glo drie mans gedwing om sy vervreemde vrou te verkrag en te sny by sy huis in Modimolle.
Hy het ook sy stiefseun doodgeskiet.
Beeld het Saterdag berig dat ‘n selfoonsein van hom in Vryburg in die Noord-Kaap opgetel is.
Mulaudzi het ook sy kommer uitgespreek oor inligting wat aan die media uitgelek word.
“Ons waardeer die media se betrokkenheid in die saak, maar as besonderhede gegee word, soos dorpe se name, hou dit ‘n probleem in vir die ondersoek,” het hy gesê.
“Terwyl ons die inligting opvolg kan die man moontlik in daardie dorp wees en as gevolg van mediaberigte ontvang hy inligting.”
Die polisie vermoed dat ‘n wetgewer vir die man inligting gee.
Hulle het ‘n interne ondersoek geloods om uit te vind van waar die inligting uitlek, het Mulaudzi gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA