Voormalige Landbank-hoof in hof
2011-11-07 16:20
Johannesburg – Philemon Mohlahlane, voormalige uitvoerende hoof van die Landbank, en twee ander het in die hof vir kommersiële misdade in Pretoria verskyn op aanklagte daarvan dat hulle die AgriBEE-skema uit R19 miljoen bedrieg het.
Die saak is uitgestel omdat een van Mohlahlane se medebeskuldigdes – Mpu Daniel Mofokeng, voormalige Gautengse LUR vir behuising – vir tyd gevra het vir sy nuwe regsverteenwoordiger om die saak te bestudeer.
Die hof het die voorlopige datum op 30 Januarie gestel, wanneer daar op ‘n verhoordatum besluit sal word.
Mofokeng het aan die hof gesê hy ondervind finansiële probleme en kan nie bekostig om sy regsverteenwoordiger, Molifi Mabalane, te betaal nie.
Landdros Nika Setshogoe het Mofokeng aangeraai om vir regsverteenwoordiging aansoek te doen by die Regshulpraad indien hy nie meer kan bekostig om sy eie regsverteenwoordiger te betaal nie.
Mohlahlane, Mofokeng, Matuba Maponya en Khutso Mosoma is op 1 Maart in hegtenis geneem en die volgende dag op borgtog van R40 000 elk vrygelaat.
Die klagte teen Mosoma is later teruggetrek.
Die oorblywende drie sal na verwagting moet pleit op vyf klagte van bedrog en vyf klagte van geldwassery.
Ten tyde van hul inhegtenisneming het McIntosh Polela, woordvoerder van die Valke, gesê die aanklagte hou verband met geld wat van die AgriBEE-fonds na ‘n firma van prokureurs oorgeplaas is.
Dié geld is toe na bewering gebruik om huise en motors te koop, pleks daarvan om klein-, medium- en mikro-ondernemings te befonds. Die misdade is tussen Oktober 2007 en Januarie 2008 gepleeg.
Mohlahlane (56) is in Maart in hegtenis geneem en afsonderlik aangekla daarvan dat hy na bewering sy kwalifikasies vervals het toe hy aansoek gedoen het vir hoë poste in die regering.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA