Voormalige Fidentia-baas soek huisarres
2010-02-24 03:28
Kaapstad – Graham Allen Maddock, die voormalige finansiële direkteur van Fidentia het Dinsdag sy aansoek vir sy vrylating by die kommersiële misdaadhof in Bellville ingedien.
Dié aansoek behels die oorplasing vanuit die tronk na ’n program van korrektiewe toesig.
Maddock is twee jaar gelede vir sewe jaar tronk toe gestuur nadat hy op veelvuldige klagtes van bedrog skuldig bevind is.
Die voormalige ondersoekspan, die Skerpioene, insluitend Bruce Morrison, die Skerpioene se hoof-kanselier wat Maddock in 2008 tot verantwoording geroep het, het die verrigtinge bygewoon om Maddock in sy aansoek te ondersteun.
Maddock se regsverteenwoordiger, adv. Peter Mihalik, het aan die hof gesê dat Maddock reeds twee jaar van sy vonnis uitgedien het en daarom kwalifiseer vir korrektiewe toesig.
Dit sluit vyf jaar huisarres in.
Maddock was ‘n model gevangene, het alle opdragte wat van hom verwag is uitgevoer en het ook in ander aktiwiteite in die gevangenis deelgeneem, het Mihalik gesê.
Owerhede van die gevangenis het op grond hiervan, ‘n verslag saamgestel wat Maddock se aansoek ondersteun.
Hy het gesê Maddock het ‘n geruime tyd in die tronk deurgebring en daar is dus geen betekenisvolle rede om hom verder in die tronk te hou nie.
“Maddock vra nou dat hy ontslaan kan word en sy tyd verder onder huisarres voltooi, wat ook gemeenskapswerk insluit.”
Mihalik het bygevoeg dat niemand wat in die ondersoek van Maddock en sy teregstelling betrokke was, enige besware aangeteken het nie.
Hy het ook namens sy kliënt gevra dat die oorblywende vonnis van vyf jaar na drie jaar verkort kan word.
Maddock is tans 55 en is daarom nie meer ‘n jong man nie. Dit was ook sy eerste kriminele oortreding waarvoor hy tronk toe gestuur is.
Dit het die staat ook nie miljoene gekos om hom vas te trek nie.
Maddock het voor die landdros, Amrith Chabillal verskyn, wat gesê het hy het tot Vrydag nodig om die dokumentasie wat voor hom neergelê is, te bewerk.
Hy sal na verwagting sy beslissing op 26 Februarie maak.
-Sapa