Vonnis vir bedrieër-sersant
2011-07-05 22:26
Johannesburg – ‘n Aanklaer in die Spesiale Hof vir Kommersiële Misdade in Bellville het gevra dat ‘n polisiesersant wat op bedrieglike wyse borgtoggeld ontvang het vir ‘n dronkbestuur-verdagte, wat op waarskuwing en nié op borgtog nie vrygelaat sou word, gevangenisstraf opgelê word.
Sers. Mark Daniel Africa, van die polisie in Kuilsrivier, sal op 27 Julie gevonnis word. Hy word aangekla van bedrog en intimidasie.
Hy het voor landdros Amrith Chabilall verskyn. Africa, ‘n 39-jarige pa van vier, was by die Kuilsrivier-polisiekantoor gebaseer. Hy het die selle bewaak.
Sy probleme het begin toe ‘n vermeende dronkbestuur in hegtenis geneem en in ‘n sel by die polisiekantoor toegesluit is.
Volgens Chabilall het Africa op bedrieglike wyse R500 se borgtoggeld van die verdagte se vriend ontvang, terwyl hy geweet het dat hy as ‘n selwag niks met die verdagte se vrylating te doen het nie en dat die verdagte buitendien op waarskuwing, en nie borgtog nie, vrygelaat sou word.
Die onverwante klag van intimidasie hou daarmee verband dat Africa gedreig het dat hy Leanne Daniels skade sou aandoen as sy nie ‘n klag van gesinsmisdaad teen die pa van haar kind, Ryan Pieterse, sou terugtrek nie.
Chabilall het gesê bewyse dui daarop dat Africa die dwelm tik gebruik en by die sogenaamde 26-bende betrokke is.
Africa het volgens Chabilall tikvoorraad by Pieterse gekry. Dié twee was vriende.
Nadat Daniels die klag van gesinsgeweld ingedien het, het Africa haar by die Kuilsrivier-landdroshof genader en aangesê om die klag terug te trek, maar, volgens Chabilall, “sy het geweet wat met haar sou gebeur” indien sy geweier het.
Derek Vogel, aanklaer, het gesê Afrika het sy gesag as ‘n polisiebeampte misbruik en gesê dit is ‘n “hartseer dag” vir die hof om ‘n polisiebeampte met 19 jaar ervaring te moet straf.
Hy het gesê die omstandighede regverdig gevangenisstraf, moontlik met ‘n vroeëre vrylating, waarna Africa onder huisarres sal wees.
‘n Boete en opgeskorte gevangenisstraf, soos voorgestel deur S. Morgan van die verdediging, sal ‘n verkeerde boodskap aan die gemeenskap uitstuur, het hy gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA