Vonke spat oor stadion se naam
2010-10-29 08:20
Kaapstad – Die appèlhof sal aanstaande maand bereg in ’n geding oor die naam van die Johannesburgse stadion wat tydens die WB 2010 as Soccer City bekend gestaan het.
FirstRand Bank, waarvan Eerste Nasionale Bank (ENB) ’n afdeling is, dring daarop aan dat die stadion as die FNB-stadion bekend staan.
Dit is weens ’n ooreenkoms van 2007 tussen FirstRand en die regering.
Met die sloping van die ou stadion en bou van ’n nuwe met die oog op die groot sokker vroeër vanjaar is die stadion Soccer City genoem.
FirstRand het ná die toernooi ’n bevel in die hooggeregshof in Johannesburg gekry waarin die maatskappy beveel is om dit die FNB-stadion te noem.
National Stadium South Africa, die maatskappy wat die stadion bestuur, en die Johannesburgse stadsraad appelleer daarteen.
Hulle het aangevoer die kwessie is dringend.
Regter Lex Mpati, president van die appèlhof, het beslis die saak sal op 23 November bereg word.
Hoewel die appèlhof se rol vir November weke gelede reeds gefinaliseer is, is die stadion-geveg as ’n dringende aangeleentheid by die rol ingedruk.
Die partye moet binne die volgende twee weke reeds hul betooghoofde by die appèlhof in Bloemfontein indien.
- Volksblad