Vonke spat in Jub Jub-hofsaak
2011-06-21 13:08
Johannesburg – Molema "Jub Jub" Maarohanye se regsverteenwoordiger het 'n polisiebeampte tydens die musikant se verhoor daarvan beskuldig dat hy "jok" en "speletjies speel".
Ike Motloung het 'n sersant van die gespesialiseerde kubereenheid onder kruisverhoor geneem. Landdros Brian Nemabidi het beveel dat die man se naam om "sekuriteitsredes" nie genoem word nie.
Molusi het 'n selfoonvideo, wat wys hoe Maarohanye en sy medebeskuldigde Temba Tshabalala na bewering resies jaag, op 'n DVD gelaai. Die DVD is weer Dinsdag in die hof gespeel.
Motloung het aangevoer dat Molusi "jok" oor waar die versoek vandaan gekom het om die video op 'n DVD te laai.
"Ek vra jou 'n eenvoudige vraag, hoekom het jy nie oorspronklik gesê dat die ondersoekbeampte versoek het om die video op 'n DVD te laai nie? Jy jok nè?"
"Jy probeer speletjies met my speel. Jy dink jy kan dit maklik wegsteek."
Die video is deur 'n 18-jarige getuie wat in die saak teen die mans getuig, opgeneem. Ntokozo Mahlangu het vroeër gesê sy weier om haar selfoon se geheuekaart aan die verdediging te gee omdat dit privaatdata bevat.
Motloung het tydens die laaste hofverskyning gesê hy wil hê sy eie kenner moet die selfoon en geheuekaart ontleed.
Raymond Mathenjwa, staatsaanklaer, het Motloung se aansoek teengestaan en die landdros gevra om te wag tot die tegniese ondersteuningseenheid van die polisie getuig. Hy het gesê dit is "nie veilig" om die selfoon, wat reeds bewyse in die saak is, beskikbaar te stel nie.
Die geloofwaardigheid van die opname is verskeie kere bevraagteken.
Maarohanye en Tshabalala het na bewering op 8 Maart verlede jaar in 'n groep skoolkinders geploeg.
Vier kinders is dood in die ongeluk en twee ander het ernstige beserings, waaronder breinskade, opgedoen.
Maarohanya en Tshabalala staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en bestuur onder die invloed van dwelms en alkohol.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA