Von Abo 'dankbaar' oor hof se besluit
2010-02-08 19:15
Alani Janeke
Johannesburg - “Ek is baie dankbaar dat ek na ‘n agt jaar lange stryd uiteindelik bo uitgekom het!”
Só sê Crawford von Abo na die Noord-Gautengse hooggeregshof beslis het dat hy daarop geregtig is om skadevergoeding van die Suid-Afrikaanse regering te eis vir sy grond wat in Zimbabwe gegryp is. Von Abo het agt jaar gelede al met regsaksie begin nadat 14 van sy plase in Zimbabwe onteien is.
Volgens Ernst Penzhorn, Von Abo se regsverteenwoordiger, het die hof beslis dat hy geregtig daarop is om die skade wat hy deur die onteiening gelei het, van die Suid-Afrikaanse Regering te verhaal.
“Dit is wel ‘n aansienlike bedrag, maar is nog nie finaal vasgestel nie. Daar is lankal al waardasies gedoen maar die finale berekenings moet nog gemaak word. Die bedrae van onder andere R500 miljoen wat tans in mediaberigte verskyn, is nie waar nie!”
‘n Beginselsaak
Penzhorn sê dit gaan nie vir hulle soseer oor die geld nie, maar “is ‘n beginselsaak”. Von Abo het dit ook aan Landbou.com gesê. Luidens ‘n berig van Beeld (30 Julie 2008) het die Pretoriase hooggeregshof bevind dat Von Abo, na ‘n jarelange stryd, geregtig is op diplomatieke beskerming van die Suid-Afrikaanse Regering nadat sy plase in Zimbabwe onteien is.
Lees meer op Landbou.com.